Wednesday, November 17, 2010

Die Begin

Ek en my sussie (Jou tannie Lientjie) het vandag so bietjie op Skype gesit en chat oor ditjies en datjies.  Die volgende oomblik vra sy my "Hoekom begin jy nie ook 'n blog vir Zaan nie?"

Ek het eers gedink, ag nee wat, niemand sal daarin belang stel nie, maar toe besluit ek dat ek gee nie eintlik om nie. Hierdie is nie vir my vriende en familie nie. Dit is vir jou!

Toe ek 'n kind was het mense fotos geneem, so 'n rolletjie uit die kamera uit gehaal (ons het dit film genoem), die rolletjie na 'n winkel toe gevat en hulle het die film ontwikkel in chemikalie. Dit word dan 'n negatief genoem. Die nagatief is dan op papier, met behulp van lig en nog chemikalie, oor gesit as 'n positief. Dit was dan uiteindelik 'n foto. Hierdie fotos is dan in 'n album gesit en dit word met tye uit gehaal en na gekyk en so bietjie gedroom oor die ou dae.

In vandag se "moderne" wereld is dinge anders. Nou word die kamera eenvoudig aan 'n rekenaar gekoppel met 'n kabel, en die fotos word oor gelaai. Die fotos word nooit uit geprint nie, want die printer het nooit genoeg ink nie. Jy kyk so af en toe toevallig daarna, maar nie vir te lank nie, want in vandag se dae is daar nie baie tyd daarvoor nie. Wat gaan van die fotos word as die rekenaar uiteindelik breek? Hoe gaan ons ooit alles onthou as jy dalk eendag vra? Hoe gaan ons die spesiale oomblike vir altyd onthou?

Een ding wat min mense eintlik van my weet is dat ek nog altyd baie daarvan gehou het om te skryf. Ek dink jy kan hierdie nou sien as jou lewens verhaal. Of eerder ons lewens verhale omdat dit baie te doen gaan he met my en jou pa ook, so kom ons begin by die begin.

13 Junie 2008 - Vrydag die 13de. "Kom ons hoop dat julle nie 'bad luck' gaan he nie" is wat die dokter vir ons gese het. "Ag nee wat, ons het mekaar op Vrydag die 13de ontmoet. Ek glo dat alles sal goed gaan." Dit is die dag wat ons die eerste keer uitgevind het dat ek is swanger. Ek was in die wolke. Ons lewens sal nooit weer dieselfde wees nie.  Minder as twee weke later is ek weer in die spreekkamer. "Ek is jammer mevrou, jy het jou baba verloor."  Ek wou dit nie glo nie. Hoe kan dit so vinnig van my weg gevat word? Dit was aaklig. Ek het nie gedink dat dinge ooit weer reg sou kom nie. My hele wereld het in een gestort.

Ek het myself weer so op 'n manier reg geruk en aan gegaan met my lewe.

21 November 2008 - Weer 'n Vrydag. "Geluk mevrou, jy is 5 weke swanger." Hoe moes ek dit die keer hanteer? Moet ek weer opgewonde raak, net om later weer seer te kry? "Ons moet alles doen om nie hierdie een ook te verloor nie." Dit is al wat in my gedagtes was. Vir seker omtrent agt maande het ek elke dag aan my maag gevat en vir Die Liewe Vader dankie gese dat jy nog oraait is. Met elke dokters ondersoek was ek so bang en het net die ergste verwag, maar jy was 'n klein fighter. Daar was tye wat dok bekommerd was omdat jy nie gewig op tel nie, maar jy het uit gehou. Ek was elke keer so trots om jou sonaar foto vir almal te gaan wys.

30 Junie 2009 - Die groot dag het uiteindelik aan gebreuk. Ek dink nou nog dat dit was die koudste dag daardie hele jaar. Ons moes 5 uur die oggend al by Emfuleni Medi Clinic in Vanderbijlpark wees. Die teater is bespreek vir 7 uur. Teen 8 uur behoort ek 'n mamma te wees. Daardie twee ure van 5 tot 7 het soos 'n ewigheid gevoel.

Ons is uiteindelik in teater toe en die dokter het begin sny. 7:45 - "Hy is uit" het jou pa vir my gese. "Maar hy huil nie" is al wat ek kon uit kry. Hulle het so bietjie met jou gesukkel en die volgende oomblik het jy los getrek en begin skree. Op daardie tyd en stadium was dit die mooiste geluid wat ek nog ooit gehoor het. Ek kon in jou pa se oe sien dat hy is nou 'n Pappa. Hy was so trots.  Hulle het jou vir so 'n paar sekondes by my gehou sodat ek net kon sien hoe jy lyk, en jaag toe met jou baba kamer toe. "Hy was net bietjie moeg om te huil, maar hy is nou oraait. Hulle gaan nou vir hom suurstof gee."

Ek het gedink twee ure is lank, maar toe kom die nuus dat ek ses ure moet wag voordat hulle jou vir my kan bring. Jy het onreelmatig asem gehaal en moes suurstof kry.

Daardie gevoel in my toe ek jou die eerste keer kon vashou is iets wat ek vir niemand kan beskryf nie.

Ons avontuur saam het begin...